Is breinontwikkling belangrik?

In Rima Shore se boek, Rethinking the brain, word Dr. H Chugani dikwels aangehaal.  Hy was ‘n neuroloog en in die 1980’s die hoof van die PET-skanderingsentrum aan die Universiteit van Kalifornië.  Hy het die PET-skandering hoofsaaklik by epileptiese pasiënte gebruik om te bepaal presies waar in die brein epileptiese aanvalle plaasvind.  Hy het egter ook hierdie skandering gebruik om die gebruik van glukose in die brein vas te stel.  Glukose is die vorm van energie-gewende voedsel wat deur die liggaam en ook die brein gebruik word om te funksioneer.  Die brein verbruik besonder baie energie – dit verklaar byvoorbeeld hoekom kinders wat nie ontbyt eet nie gouer moeg word en hulle breinfunksies nie so flink is soos dié van kinders wat wel ontbyt eet nie.

Chugani het hierdie navorsing op kinders en ouer mense vanaf geboorte tot volwassenheid gedoen en toevallig vasgestel dat die verbruik van glukose op verskillende stadiums verskil.  Hierdie glukoseverbruik het hom dus in staat gestel om te bepaal wanneer daar besonder sensitiewe fases vir groei in die brein is.  Glukoseverbruik het ook aangetoon watter soort aktiwiteite tot verhoogde gebruik lei – met ander woorde, watter aktiwiteite dit is wat die brein langer besig hou en dus meer breingroei laat plaasvind.

Almal weet dat die periode vanaf geboorte tot ongeveer 3 jaar besonder belangrik vir breinontwikkeling is.  Wat Chugani se navorsing egter vir ons aantoon, is dat die periode tussen 4 en 5 jaar net so belangrik is.  Op 4-jarige ouderdom is die korteks van die brein – waar die denkfunksies plaasvind – twee maal so aktief soos dié van die volwasse brein.  “The brain continues to consume glucose at this feverish pitch through age 10 and then slows down until age 16, when it levels off at adult values.”

Die brein se glukoseverbruik in kinders is so hoog omdat daar twee keer meer breinkonneksies is wat onderhou moet word en ook twee maal meer as wat op die ou einde behou sal word.  Die interessante implikasie vir voorskoolse onderrig is dat die brein in die voorskoolse fase wag om te sien watter breinselle en konneksies deel gaan word van die permanente struktuur van die brein.  Hierdie selle word dan nie afgeskei in die tydperk tussen 10 en 16 jaar nie.

Daar word ook nou weer opnuut gekyk na die hele denke rondom sensitiewe ontwikkelingstye waartydens spesifieke aspekte op sekere tye makliker ontwikkel.  Daar is jare gelede vasgestel dat as klein katjies se een oog toegemaak word, daardie katjies blind in die betrokke oog is, omdat die konneksies na die brein nie gevorm is nie.  Dit vind plaas ten spyte van die feit dat die oog struktureel niks makeer nie.  Dit is ‘n aanduiding van hoe belangrik vroeë ervarings in die ontwikkeling van die brein is en impliseer dit dat indien die sensitiewe tye nie benut word nie, die vaardighede en kennis later baie moeiliker aangeleer word.

Ons weet vandag dat die sensitiewe tyd vir senso-motoriese leer saam met sosiale leer die langste van alle fases duur.  Leer deur middel van beweging is moontlik reeds so vroeg as 2 jaar bepalend vir vaardighede soos ruimtelike konsepte, wat op hul beurt weer die basis vir suksesvolle leer in die formele skoolsituasie vorm.

Die vertroue en sekuriteit wat die baba ervaar, is die fondament waarop selfrespek, respek vir ander, empatie en die vermoë om jou beurt af te wag, almal vaardighede wat op die voorafgaande gebou is.  Babas wat in hierdie sensitiewe tyd aan herhaaldelike veranderinge in hul versorging blootgestel word, sal ‘n probleem hê om hul vertroue in ander mense te plaas.  In der waarheid is die sensitiewe stadium vir ontwikkeling die grootste tussen die ouderdomme 4 – 6 jaar.  Terselfdertyd moet ons onthou dat sosiale vaardighede wat in hierdie fase aangeleer word, vanaf 6 jaar tot in die vroeë tienderjare verfyn en verbreed word.  Die ervarings in die voorskoolse tydperk is egter bepalend.  Sou daar in die voorskoolse fase iets skeefloop, sal daar met gespesialiseerde remediërende hulp veranderinge in die gedrag kan plaasvind.

Wat ons geleer het uit onder andere bogenoemde studies, beïnvloed die totale kurrikulum, vanaf die inhoud en die metode, tot aspekte soos verhoudings, dissipline en verantwoordelikheid.

Beweeg, ervaar, praat, vertel stories, gee en ontvang liefde, sekuriteit en bid baie – so leer ons almal saam!

Wilna van Rooyen.