Ons leef in ‘n wêreld waar kompetisie en prestasie hoogty vier.  Ons jong kinders word meegesleur deur ‘n golf van welmenende volwassenes, wat hul van die een gestruktureerde aktiwiteit na die ander karwei.  In die proses word kinders se natuurlike geneigdheid om fantasie- of verbeeldingspeletjies te speel, ingekort.

Die waarde van verbeelding- of fantasiespel word erg onderskat.  Vrye spel, waar kinders hul verbeelding vrye teuels kan gee, is van onskatbare waarde en bied meer voordele vir die kind as die meeste aktiwiteite waaraan kinders deelneem.  Van dié voordele is as volg:

Dit bevorder  probleemoplossingsvaardighede en kreatiewe denke.

Vrye kreatiwiteit wat nie onderdruk word nie, help kinders om selfs meer kreatief te dink en met meer oorspronklike oplossings vorendag te kom.  Die kind moet sy verbeelding gebruik, wat kreatiewe denke stimuleer.  Al is dit net om nuwe idees uit te dink vir die gebruik van eenvoudige apparaat, byvoorbeeld die moontlikhede van spel wat ‘n leë houer bied, of ‘n motorbuiteband, of ‘n ou laken, of net ‘n maatjie wat onverwags tot die spel toetree.

Die nabootsing van die werklike lewe.

Dit is belangrik om te onthou dat kinders ons intens dophou!  Ons moet dus reg optree wanneer kinders in die omgewing is!  Hulle beeld verskillende situasies in spel uit: wat hul in die regte lewe sien, wat hul op televisie waarneem, asook die rol wat hul in gesinne speel.  Van huis-huis, juffrou-juffrou, speel-speel werk, tot die uitspeel van konfliksituasies wat hul waargeneem het.  Indien ons voorbeeld navolgenswaardig is, help dit hulle sommer om te leer hoe om konflik positief op te los.

Die onwikkeling van sosiale en emosionele vaardighede.

Kinders leer gesels as hul met maatjies of verbeeldingsmaatjies te doen het.  Hulle leer op ‘n spontane wyse kommunikeer deur die vertolking van rolle, wat hul sommer ook meer selfvertroue gee om te waag.  Terwyl hul speel, eksperimenteer hul met verskeie sosiale en emosionele rolle in hul lewens.   Hul leer hoe om beurte te maak, ander ‘n kans te gee, hoe om “babas” of “troeteldiere” te versorg, hoe om saam te werk.

Hulle leer om emosies te beheer, simpatie met ander te hê, vir hul in te tree, te troos en uit te nooi om saam te speel.

Fantasiespel bevorder  taalontwikkeling

Herhaling en oefening help om taalvaardighede te bemeester.  Hoe meer kinders tydens spel gesels, hoe vinniger ontwikkel hul taalvaardighede op ‘n natuurlike wyse en op die koop toe neem hul selfvertroue met rasse skrede toe.  Skugter kinders is bereid om heerlik te gesels, wanneer hul een of ander rol vertolk en van hulself vergeet.

Fantasiespel help ook met die aanleer en inoefening van ‘n tweede taal, aangesien kinders in spel bereid is om met ‘n vreemde taal te waag.

Onafhanklikheid van tegnologie en geslote-einde-speelgoed word bevorder.

Dit is belangrik dat kinders leer om hulself te vermaak en vas te stel hoe hul baie pret kan hê sonder duur speelgoed of elektroniese apparaat.   Hul leer om op enige plek met enige item ‘n heerlike speletjie te kan uitdink, al is dit met sand, klippe en blare, of selfs geen apparaat nie.  Stories begin dan broei in daardie verbeeldingryke koppies, wat later tot akademiese prestasie lei.  Ou klere, skoene, handsakke, kombuisapparaat, lakens, lappe en komberse, is oop-einde-speelgoed, wat ure se genot kan bring.

Volwassenes kan ook stories vertel oor hoe hulle gespeel het, wat aanleiding sal gee tot nog oorspronklike idees.

Om vir rukkies saam met die kinders te speel, is waardevol vir beide partye en lei tot positiewe verhoudings.  Om net saam piekniek te hou, of winkel-winkel te speel, of om in ‘n lakentent te skuil, bied kwaliteit tydsbesteding, wat ewigheidswaarde het.

Laat kinders toe om te speel, sonder onnodige inmenging.  Hul sal moontlikhede ontsluit wat verstommend is, hul kreatiwiteit sal die wêreld verower.

Groete!

Wilna van Rooyen