VASBYT EN DEURDRUK:

Emosionele ontwikkeling verg baie tyd en hope geduld, maar daarsonder word maats maak en vordering op skool gekortwiek, al is jou kind baie intelligent.  ’n Kind moet eers impulsbeheer en selfbeheersing bemeester voordat hy sy konsentrasievaardighede kan verbeter.  Konsentrasie beteken om ’n taak te begin en daarmee aan te hou totdat dit klaar is.  Sonder selfdissipline is dit moeilik omdat ’n kind wat nie lus is om iets te doen nie, nie ’n taak sal voltooi nie.

Emosionele ontwikkeling help ’n kind (en later ’n grootmens) om iets te doen al voel sy of hy nie lus om dit te doen nie.  Vasbyt en deurdruk sit ’n grens om die emosies sodat emosies nie handuit ruk nie.

Jill Taylor meen selfs grootmense verval dikwels in gedrag wat vir ’n tweejarige gepas is wanneer hulle as volwassenes nie hulle sin kry nie.  As dié lesse nie tussen die ouderdom van twee en drie geleer word nie, word dit dikwels nooit geleer nie.

Kinders het min maar ferm en konsekwente reëls nodig om veilig te voel.  Die doel van dissipline is nie om te straf nie, maar om te leer wat reg en aanvaarbaar is en wat nie.

Dissipline begin by die huis, maar omdat ouers kinders dikwels min sien weens lang werksure, wil hulle nie tuis kom en baklei nie.  ’n Kind sonder reëls of grense is ’n kind wat nie respek aanleer vir grense en ander mense nie.  Sonder respek vir byvoorbeeld stoptekens is daar chaos, respek bring orde.  (M. de Jager)

Juffrou kan help met emosionele en sosiale ontwikkeling, maar elke ouer het die voorreg en verantwoordelikheid om self sy kind op hierdie gebied te help vorm.

Sosiale vaardighede:  Die tydperk tussen drie en vier is die ideale tydperk wanneer die kleuter:

  • in groepe groter as sy/haar gesin begin leer;
  • makliker leer om te deel, al is dit steeds ’n tydperk van skaaf en slyp;
  • leer om beurte te maak;
  • meer geredelik van reëls kan leer sodat maats saam kan speel;
  • leer van regverdig en onregverdig;
  • leer om te onderhandel, vas te staan en toe te gee;
  • leer dat om maats te hê, beteken jy kry nie elke keer jou sin nie;
  • humor leer ken en
  • leer van die lekker om iemand anders se behoefte voor jou eie te stel.

Die resep vir spraak:  (en latere skryf en lees)

Normale gehoor. Mens moet goed kan hoor om goed te praat!  Babas en peuters hoor hulself en ander en verfyn die spraakmotoriese plan wat hulle uit hul langtermyngeheue oproep om mee te werk.

Interaksie met ouers en ander belangrike mense.  Jou kind se binding en verhouding met jou is baie belangrik vir sy/haar spraakontwikkeling. Die feit dat jy elke keer reageer, is hoe hy/sy leer praat.  As hy/sy geluidjies maak, rek jy jou oë, boots hom na en prys hom sodat hy dit weer wil doen.

Gesonde artikulasiestrukture. Die artikulasiestrukture is die meganismes wat asemhaling, stemgewing, resonansie en vorming van klanke moontlik maak.  Dit behels hoe die klanke in die neus en mondholte klink, die vervorming van die klanke deur die tong en in die mondholte en die verskil in klank as die kakebeen lig of sak.

Ouditiewe verwerking. Die kleuter moet spraak kan hoor en volgehoue aandag daaraan kan gee (luister), maar hy/sy moet ook kan hoor dat sekere klanke anders is (onderskei) en uit dit wat gehoor word, moet betekenis aan klanke geheg kan word. (verstaan)

Neurologiese ryping en breinontwikkeling.  Spraak het ’n baie spesifieke motoriese ontwikkelingsplan wat anders lyk as die motoriese plan vir byvoorbeeld eet, al gebruik jy vir albei jou mond.  Dit is deels omdat die verbindings in die brein wat vir spraak nodig is, eers gevorm moet word en miëlinasie (die vorming van ’n vetterige laag om die senuselle) moet plaasvind sodat die breinbood-skappe wat vir spraak nodig is, vinniger kan beweeg.  Spraak het die mees gesofistikeerde motoriese plan.

Geheue. Jou baba moet kan onthou om te praat.  Hy/sy moet patrone na sy werkgeheue (waar hy inligting tydelik berg en daarmee werk) kan oproep, maar ook inligting dieper in die langtermyngeheue kan bêre sodat dit elke keer herroep kan word as hy/sy wil praat.

Stilte.  Gedurige geraas in die klankomgewing meng in met taalontwikkeling.  Dit is geraas soos radio’s en televisiestelle wat gedurig speel of mense wat baie hard met mekaar praat, sonder om met baba te praat.  Dit maak dit vir jou kind moeilik om tussen klanke te onderskei en te fokus op sekere klanke om woorde aan te leer.  Enige besorgdheid oor iets wat spraakverwant is, op enige ouderdom, kan met ’n spraakterapeut of oudioloog opgeneem word.

Geluk en groei:

Binne-in ons is daar ’n wonderlike stelsel opgesluit wat ons lei en aandui wanneer ons ontwikkel en wanneer nie. Ons is vol vreugde as ons groei en iets beteken, maar ons voel onvervul en teleurgesteld wanneer ons stagneer.

Terwyl jy op jou lewensreis is, sal jy baie emosies ervaar, maar daar is geen groter pyn as om ’n betekenislose lewe te leef nie. Ons moet ons tot volkome deelname aan die lewe verbind en elke onbeperkte moontlikheid met ope arms aangryp.

‘n Bekende opvoedkundige het eenkeer gesê ’n mens behoort dié dinge te doen waarvoor jy lief is en goed doen. Slegs dan sal jy besef watter wonderlike gawes en vermoëns jy werklik besit.

Stel vas wat jou die gelukkigste maak en wat jou verhinder om ’n lewe van vervulling te lei. Vind ook uit hoe jy kreatief van hindernisse ontslae kan raak. Onthou, deur weer die dinge te doen wat jou gelukkig maak, vind jy hernieude vreugde en die lewe self.

(Kobus Neethling) 

 

KREATIWITEIT:

Kreatiwiteit is ’n Godgegewe talent wat almal ontvang.  Kinders van 3 – 5 jaar besit 98% kreatiwiteit, maar, skokkend genoeg het kinders van 10 jaar maar net 32% kreatiwiteit oor!  Dit is ’n aanklag teenoor volwassenes!

Ons laat kinders nie toe om hul kreatiwiteit te ontwikkel volgens hul eie tempo en vermoë nie.  Ons beantwoord nie hul ontelbare vrae nie.  Ons maak hul stil.  Ons sorg dat hul rekenaarspeletjies speel, televisie kyk of items volgens patroon maak, waar die een soos die ander lyk en hul glad nie hoef te dink nie!

Laat ons ons kinders se uniekheid vier!  Laat ons hul toelaat om kinders te wees!  Laat ons hul toelaat om foute te maak en daaruit te leer!  Die kindertyd is so kort, ons mag dit nie ook nog van ons kinders steel nie!

Glo in jou eie kreatiwiteit:

Om regtig kreatief te wees, moet ons heel eerste glo dat ons innoverend is. Dit gee ons moed om nuwe idees te genereer en die bewys van ons eie, unieke kreatiwiteit te sien. Die geloof in ons eie kreatiewe vermoëns is die vrugbare grond wat nodig is om te groei.

Om te glo dat jy kreatief is, beteken nie dat jy weet jy is altyd reg nie. Dit beteken wel dat mislukking nie die einde van die pad is nie. Dit beteken jy sal op ander paaie reis totdat jy die een wat na sukses lei, ontdek.