. Vingerrympies is gediggies of liedjies wat tradisioneel met handbewegings gekombineer is om babas en jong kinders se belangstelling behou.

Hierdie is ‘n ou gunsteling onder kinders wat

uitstekend is om selfvertroue te ontwikkel. Dit bevorder ook breinintegrasie omdat kinders oefen om tegelykertyd te praat en beweeg.

Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program

+ Spraak- en taalvaardighede

Vingerrympies beklemtoon die ritme, intonasie en

klempatrone van ‘n taal en dit maak kinders meer bewus van die klanke waaruit woorde opgebou word (fonologiese ontwikkeling).

Woordeskat word ook uitgebou en spraak ontwikkel omdat kinders oefen om interessante spraakpatrone uit te spreek.

+ Selfbeheersing

Uitvoerende funksie word uitgebou wanneer kinders vingerrympies opsê omdat hulle oefen om stappe te onthou en instruksies noukeurig uit te voer.

+ Spierbeheer en koördinasie

Unieke arm-, hand- en vingerbewegings word ingeoefen en kinders oefen dikwels ook om twee hande saam te gebruik.

+ Voorbereiding vir musiekonderrig

Vingerrympies help ook om kinders voor te berei om musiekinstrumente te bespeel omdat dit vingervaardighede, temporale bewustheid (ritmiese vaardigheid) en uitvoerende funksie by kinders ontwikkel.

Daar was ‘n ou vrou  wat moes woon in ‘n skoen.

Daar was te veel kinders! So, wat moes sy doen? Toe maak sy maar sop sonder botter of brood.

En gee almal pak

of hul klein was of groot!

Wenke

  1. Gebare wat die betekenis van die woorde uitbeeld kan by enige liedjie of rympie aangelas

Wanneer julle die gedigge van die ou vrou in die skoen opsê, kan julle byvoorbeeld julle hande gebruik om skoene voor te stel, vingers kan kinders wees, ‘n mens kan roer om te wys dat daar sop gemaak word en een hand kan die ander hand piets om te wys hoe die arme kinders pak kry.

Hoekom só?

Handgebare stel kinders bekend aan die idee dat simbole betekenis kommunikeer. Dit berei hulle dus voor om te leer lees, skryf en wiskunde doen in ‘n wêreld waar letters spraakklanke voorstel en syfers getalwaarde verteenwoordig.

2.   Liedjies en rympies wat kinders leer om speel-speel agteruit te tel, is goud werd.

Dink maar aan die bekende Engelse rympie wat vertel hoe vyf apies op die bed spring en hulle dan een vir een afval totdat daar nie ‘n enkele apie oor is nie.

Hierdie rympies is so waardevol om te help om ‘n stewige grondslag vir wiskunde te lê dat dit eintlik elke kind se geboortereg is om minstens een van hulle te leer en goed in te oefen.

Hoekom só?

Getalle-rympies stel kinders bekend aan terloopse bewerkings en die konsep van “een minder” word

herhaaldelik op ‘n kindervriendelike manier gedemonstreer en vasgelê.

Kinders leer ook om die getallyn van 1 tot 5 in die geestesoog te visualiseer.

     Vyf Klein Hondjies wat Blaf, Blaf, Blaf    

Vyf klein hondjies wat blaf, blaf, blaf.       (wys vyf vingers) Vyf klein hondjies raak nou laf!  (wees opgewek)

Een gaan lê en gaap, gaap, gaap (praat stadig & laat ‘n vinger lê) en kort voor lank is die hond aan die slaap!  (snork na slaap)

Vier klein hondjies wat blaf, blaf, blaf.      (wys vier vingers) ens. Vier klein hondjies raak nou laf!

Een gaan lê en gaap, gaap, gaap

en kort voor lank is die hond aan die slaap!

Drie klein hondjies wat blaf, blaf, blaf. Drie klein hondjies raak nou laf!

Een gaan lê en gaap, gaap, gaap

en kort voor lank is die hond aan die slaap!

Twee klein hondjies wat blaf, blaf, blaf. Twee klein hondjies raak nou laf!

Een gaan lê en gaap, gaap, gaap

en kort voor lank is die hond aan die slaap!

Een klein hondjie wat blaf, blaf, blaf. Een klein hondjie raak nou laf!

Een gaan lê en gaap, gaap, gaap

en kort voor lank is die hond aan die slaap!

Geen klein hondjie wat blaf, blaf, blaf. Geen klein hondjie raak nou laf!

Geen klein hondjie lê en gaap,

want al my honde is vas aan die slaap!

Rympie deur Lizette van Huyssteen