Hoofbrekens oor hoofletters

Ek kry verbasend baie navrae oor hooflettergebruik. Op die keper beskou, is dit seker nie so vreemd nie, want die reëls vir hoofletters in van die ouer uitgawes van die AWS het vermeerder soos ʼn konynkolonie in ʼn onbewaakte agterplaas, juis omdat die taalgemeenskap hoofletters in soveel verskillende kontekste vir soveel verskillende goed aanwend. Dink byvoorbeeld aan die manier waarop hoofletters in regstekste gebruik word: Die Klaer en die Klaagster se mekaar die stryd aan in ʼn Egskeidingsgeding en moet ʼn Skikking bereik waarin die Afhanklikes se Onderhoud bepaal word. As ek deur so ʼn dokument geworstel het, voel ek vir ʼn hele paar minute daarna Duits. Nog ʼn eienaardige geval, is die hoofletters by persoonlike voornaamwoorde waarmee daar in die Bybel na die Godheid verwys word, wat eintlik heeltemal in stryd is met die reëls. Maar meer daaroor later.

Die Taalkommissie het op ʼn punt besef die AWS gaan uit sy nate bars as hierdie reëlmakery so voortduur en het die hele hoofstuk 9 herbewerk. Dis nog ʼn hok vol hase, maar dis darem nie meer oorbevolk nie. Nietemin word ʼn gebruiker wat vir die eerste keer met hoofstuk 9 kennis maak dikwels deur die reëls oorweldig, en dan beland daar ʼn navraag by my oor die hooflettergebruik in ʼn sin soos die volgende:

Die versoek is aan die direksie/Direksie voorgelê.

Die antwoord is eintlik verbasend eenvoudig, en as ʼn mens die beginsels vir hooflettergebruik in gedagte hou, raak dit baie makliker om ʼn kopkrapper soos in bogenoemde sin op te los. Hoofletters word in Afrikaans gebruik om twee goed te merk: sinsbegin en eienaamwoorde. Dit is met ander woorde verpligtend om die die in die volgende sin met ʼn hoofletter te skryf, en dit is verpligtend om die voornaam en van met ʼn hoofletter te skryf:

Die versoek is aan Johan Rautenbach voorgelê.

Daarteenoor is dit nie korrek om direksie in die eerste voorbeeldsin met ʼn hoofletter te skryf nie, want dit is ʼn soortnaamwoord en nie ʼn eienaamwoord nie:

Die versoek word aan die direksie voorgelê.

Dit is vir die meeste gebruikers nie moeilik om die sinsbegin te herken nie, maar eienaamwoorde is soms problematies. Eienaamwoorde word gebruik om ʼn unieke ding te benoem en kry normaalweg nie lidwoorde nie. Die volgende lys (nie omvattend nie) is voorbeelde van woorde wat in Afrikaans eienaamwoorde is:

Persoonsname (Johan Visagie)

Byname (Vleis Visagie)

Toename (Karel die Grote)

Handelsname (Revlon)

Publikasiename (Beeld)

Geografiese name (Suid-Afrika)

Geologiese name (die Pleistoseen)

Taalname (Afrikaans)

Name van bevolkingsgroepe (Amerikaners)

Maand- en dagname (Mei, Saterdag)

Name van geskiedkundige gebeurtenisse (die Tweede Wêreldoorlog)

Name van spesiale dae (Valentynsdag)

Name van staatsdepartemente en fakulteite (Departement van Buitelandse Sake)

Wetenskaplike name (Loxodonta africana)

Die Taalkommissie het probeer help deur gevalle waar die keuse tussen hoof- en kleinletter moeilik kan wees, afsonderlik te bespreek.

Eienaamwoorde wat uit meer as een woord bestaan (multiwoordeiename)

Die naam Kaap die Goeie Hoop is so ʼn voorbeeld. In so ʼn geval is al die los woorde met hoofletters, buiten lidwoorde, voorsetsels, voegwoorde en die woord se wat deel van die naam uitmaak.

Eienaamwoorde met agtervoegsels

Waar agtervoegsels by eienaamwoorde gebruik word, kan dié vorm met ʼn hoof- of kleinletter geskryf word, bv. Calvyn -> Calvinis x calvinis. Dit geld nie vir gevalle waar die agtervoegsels saam met plek- of taalname gebruik word nie, bv. Suid-Afrika -> Suid-Afrikaner en Engels -> Engelse. Laasgenoemde behou die hoofletters.

Aanspreekvorme

Aanspreekvorme kan met ʼn hoof- of kleinletter geskryf word, en verskillende aanspreekvorme kan in een teks verskillend hanteer word. ʼn Gebruiker kan byvoorbeeld skryf Nee, liefie x Nee, Liefie en Nee, mamma x Nee, Mamma. Hierdie keuse word gewoonlik gemaak op grond van hoe ver of hoe naby die gebruiker die aanspreekvorm aan ʼn eienaamwoord beskou.

Eienaamwoorde wat as soortnaamwoorde optree

Dit is gewoonlik ʼn handelsnaam of persoonsnaam wat gebruik word om na ʼn eksemplaar van ʼn ding te verwys, bv. Ons ry sommer met die Polo of Daar hang ʼn Tretchikoff in my ouma se huis. Sulke woorde kry hoofletters.

Soortname wat as eiename optree

Dit is woorde wat eintlik soortnaamwoorde is, maar wat die naam van ʼn ding geword het, bv. Grondwet (enige organisasie kan ʼn grondwet hê, maar die woord met die hoofletter verwys na Suid-Afrika se belangrikste wet) en Hervorming (die naam van die tydperk in kerkgeskiedenis). Sulke woorde kry ook hoofletters.

Verbleekte eienaamwoorde

Dit is woorde wat op ʼn tydstip eienaamwoorde was, maar waarvan die uniekheid van die verwysing so verbleek het dat dit nou soortnaamwoorde is. Voorbeelde is tippex (vir enige soort korrigeervloeistof) en Hy is ʼn regte hitler (vir enige soort onredelike leier). Die verbleekte vorm word gewoonlik met ʼn kleinletter geskryf.

 Gewone plant- en dierename

Dit is name wat in die volksmond vir plante en diere ontstaan het. Die reëls hiervoor raak kompleks, want sommige van hierdie name het plekname in die naam en dan is daar ʼn ander reël wat geld. As jy dus met so ʼn geval te doen het, slaan liewer na, maar die beginsel is dat woorde soos kiepersol en swartwitpens nie met hoofletters geskryf word nie.

 Name van geldeenhede

Die saak word spesifiek in die AWS genoem, want ʼn mens wil-wil dink dis ʼn eienaamwoorde en dit met ʼn hoofletter skryf. Veral die naam van die Suid-Afrikaanse geldeenheid lyk na ʼn eienaamwoord omdat dit van Witwatersrand kom. Maar dit is altyd met ʼn kleinletter, buiten natuurlik aan die begin van die sin: tien rand, 70 dollar, duisende euro.

Die kwessie waaroor die AWS nie meer uitsluitsel gee nie, is hooflettergebruik by persoonlike voornaamwoorde wat na die Godheid verwys. Die rede daarvoor is eenvoudig: Die hooflettergebruik in die Bybel is ʼn konvensie, nie ʼn taalreël nie. Daar is naamlik nie ʼn taalreël wat bepaal dat voornaamwoorde ʼn hoofletter kry nie, en daar was nooit so ʼn reël nie. Die konvensie om die hoofletter so vir voornaamwoorde aan te wend, kom net in die Bybel voor, en dit is in die 1933-vertaling ingebring omdat dié vertaling eintlik maar ʼn oorklanking van die Statebybel was. Die hoofletters is in die Nederlands so in die Statebybel gebruik en toe nooit weer nie. Net in Afrikaans bly dié eienaardigheid voortleef, omdat mense die hoofletter beskou as ʼn vorm van eerbiedsbetoon. Dit is nie taalkundig juis nie. Hoofletters betoon nie eerbied nie, dit merk ʼn bepaalde taalkundige omgewing of bousel, en om na God as “hy” te verwys is nie minder eerbiedig om na hom te verwys as “Hy” nie. Daaroor het ek reeds in ʼn ander blog geskryf. Dit gesê, staan dit natuurlik elke gebruiker vry om te besluit om eerder by die taalreëls (die kleinlettervorm) of die konvensie (die hooflettervorm) te hou.

Hou ten slotte in gedagte dat hierdie blog as ʼn hulpmiddel geskryf is, nie as ʼn opsomming van die reëls nie. As jy dus werklik klinkklaar uitsluitsel wil hê, slaan liewer na. Jy ken die ou gesegde: As die kortpad die regte pad was, sou die lang pad daarlangs geloop het.

Uiteindelik is dit natuurlik die belangrikste dat jy die pad loop, en dat die pad met die taal vir jou vreugde verskaf.

VivA-groete

Sophia